Vier in SA aangekeer oor vermeende IS-bande

Die Valke en ander polisie-eenhede het oor die naweek toegeslaan op vier mense in Sentraal-Transvaal weens vermeende bande met die terreurgroep, Islamitiese Staat (IS) en hulle vir terroriste-verwante aanklagte aangekeer.

Die optrede spruit blykbaar uit ‘n saak in 2015 toe die vier indertyd na Sirië wou reis, maar die lugdiens wat hulle wou gebruik, wou nie die vrou en drie mans op die vliegtuig toelaat nie omdat hulle van hulle planne verwittig is.

Verdere ondersoekwerk is oor die vier tussen 20 en 24 jaar gedoen en twee van hulle is oor die naweek in Azaadville, Krugerdorp in hegtenis geneem en die ander twee is in Newclare, Randburg vasgetrap.

Twee van hulle sal vandag in die landdroshof in Johannesburg op aanklagte van terrorisme verwante aanklagte verskyn.

Die ander twee verdagtes sal vandag in die landroshof in Kagiso, Krugersdorp verskyn op aanklagte van oortreding van die vuurwapen- en plofstofwetgewing.

Volgens die Valke woordvoerder word hulle ook daarvan verdink dat hulle betrokke is by terroriste bedrywighede in Sentraal-Transvaal. 

Die Valke-hoof, Mthandazo Ntlemeza, het in ‘n verklaring die inhegtenisneming van die vier as ‘n groot stap in die stryd teen terrorisme beskryf.

Die skielike optrede hang waarskynlik ook saam met die waarskuwings vroeg in Junie vanjaar deur die Amerikaanse, Britse en Australiese ambassades aan hulle burgerlikes teen moontlike terreuroptrede in groot winkelsentrums in Suid-Afrika.

Die waarskuwings het nogal ‘n groot opskudding veroorsaak, en is veral deur die departemente van internasionale betrekkinge en samewerking asook staatsveiligheid begroet met ‘n baie negatiewe en ondiplomatiese reaksie. Maar die ANC-regime het later ‘n U-draai gemaak toe besef is dat die weerstand teen die afmaak van ‘n moontlike terreuraanval net te groot is.

Wat wel ook aan die lig gekom het, en deur verskeie veiligheidskenners en -analiste uitgewys is, is dat Suid-Afrika se hele staatsveiligheid en intelligensie hoegenaamd nie opgewasse is om internasionale terreurorganisasies of ‘n aanval deur hulle die hoof te bied nie.

Foto – Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo