Vernietigende aanval op IS-terroriste uitgevoer

Die Irakse Weermag, met die ondersteuning van die koalisieweermag teen terrorisme het die Islamitiese Staat (IS) ’n gevoelige slag toegedien in die Irakse stad, Falluja.

’n Woordvoerder van die Irakse Weermag sê nagenoeg 250 terroriste het omgekom in die aanval wat Woensdag uitgevoer is.

Benewens die terroriste wat gedood is, is meer as 40 voertuie van die IS-vegters deur vegvliegtuie vernietig, en ’n onbekende aantal terroriste is swaar gewond.

Die aanval was so hewig dat die oorblywende paar terroriste verplig was om te vlug, en kon die weermag die stad beset en inwoners laat terugkeer na hulle woonplekke.

Die terroriste het verskeie aanvalle vanuit Falluja beplan wat uitgevoer is in die Irakse hoofstad Bagdad.

Woordvoerders in Bagdad sê dit is die grootste oorwinning wat die Weermag nog behaal het oor IS-terroriste in die land.