Twee onderwysers sterf in ongeluk

Twee onderwysers het omgekom en ‘n derde een ernstig beseer in ‘n ongeluk op die N1 buite Nylstroom.

Die ongeluk het plaasgevind toe ‘n swaar vragmotor se band gebars het, waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en in die aankomende verkeer vasgery het.

Die drie onderwyseresse was op pad terug van ‘n netbal vergadering in Pietersburg na hulle huise in Nylstroom en Thabazimbi.

‘n Onderwyseres van die Susan Strijdom-skool vir kinders met spesiale behoeftes, Linda Hattingh (39 jaar) is in ‘n uiters kritieke toestand met kopbeserings in die waakeenheid van ‘n privaathospitaal in Pietersburg opgeneem.

Sy het die motor waarin hulle gery het, bestuur. Hoewel sy probeer het om uit te swaai, het die vragmotor die linkerkant van haar motor getref.

Isabel Kotze en Jermina Khiba, altwee onderwyseresse van Thabazimbi, is dood in die ongeluk.

Kotze was verbonde aan die Hoërskool Frikkie Meyer, waar sy Afrikaans vir Gr. 10 leerlinge gegee het. Sy was getroud met ds. Frikkie Kotze van die NG-kerk Dwaalboom.

Die ander passasier, Jermina Khiba, het skoolgehou by die Deo Gloria Primary School op Thabazimbi.

‘n Saak van strafbare manslag sal teen die vragmotorbestuurder, wat net lig beseer is, ondersoek word.

Foto – Isabel Kotze