Twee 18 jariges in hof oor Greytown moord

Twee verdagtes (altwee 18-jaar) sal na verwagting vandag in die landdroshof verskyn in verband met die moord op Sarel David Theron op ‘n plaas by Seven Oaks buite Greytown in Natal.

Sy kollegas by Mondi, waar hy by die veiligheidsafdeling as fasiliteerder gewerk het, het bekommerd geraak omdat Theron (49 jaar) nie vir werk opgedaag het nie en het na hom gaan soek by sy huis op Mistly Farm.

Hulle het op sy liggaam afgekom en die polisie ontbied. Hy is steekwonde toegedien en is vermoedelik ook verwurg aangesien hy duidelike wurgmerke aan sy keel het.

Klaarblyklik is hy reeds op Sondag 3 Julie vermoor nadat hy aanvanklik eers verskeie steekwonde toegedien is. Hy het vermoedelik homself daarna in sy huis toegesluit, maar die aanvallers het ‘n deur afgebreek en hom verwurg. Hulle het die huis geplunder en probeer om ‘n kluis in sy slaapkamer met ‘n ketting van die muur los te breek, maar die ketting het gebreek.

‘n Skootrekenaar, selfoon en ander goedere is uit die huis gesteel en is volgens die polisie tydens die arrestasie by die verdagtes gekry.

Die verdagtes verskyn op aanklagte van moord en huisroof in die Greytown-landdroshof.

Die polisie sal ook ondersoek instel of hulle verbind kan word met ander huisinbrake in die Greytown-omgewing en omliggende gebiede.