Turkye kondig noodtoestand af

President Recep Tayyip Erdogan van Turkye het Donderdagoggend ’n noodtoestand in die land aangekondig nadat ’n staatsgreep poging deur lede van die weermag misluk het.

Die noodtoestand is van krag nadat die president en sy kabinet tydens ’n byeenkoms van die Nasionale Veiligheidsraad die besluit geneem het.

Die president sê in ’n TV-onderhoud dit is belangrik om so vinnig as moontlik die terroristiese organisasie wat betrokke was by die staatsgreep poging, te elimineer.

President Erdogan sê die noodtoestand is nie bedoel om die regstaat, of die demokrasie aan te tas nie, maar wel om die terreurmagte vas te vat.

Turkye het die afgelope week reeds meer as 50,000 mense afgedank, waarvan duisende vervolging in die gesig staar.

In sy verklaring stel die president die beleggers gerus en sê hulle beleggings is veilig en sal te alle tye beskerm word.

Vroeër het hy gesê die “virusse” wat in die weermag is, sal uitgeroei en vernietig word, waarna duisende lede van die weermag, regters en aanklaers afgedank is en vervolging te wagte kan wees.

Donderdag het die land se nasionale veiligheidsraad byeen gekom en was verskeie senior offisiere van die weermag en polisie teenwoordig om strategie te bepaal hoe om van die “oorblyfsels van die virus” ontslae te raak.

Dit blyk dat ’n totaal van sowat 60,000 staatsamptenare reeds geskors is, wat die effektiewe werksaamhede van talle departemente ernstig benadeel, wat glo bydra tot die noodsaaklikheid om ’n noodtoestand af te kondig.

Turkye het in 2008 sy laaste noodtoestand gehad, en voor dit het die land ’n noodtoestand gehad wat etlike jare geduur het.