Treindrywer doodgeskiet terwyl hy vir trein wag

’n Treindrywer van Metrospoor is in Kaapstad op die Netreg-stasie doodgeskiet terwyl hy vir ‘n trein gewag het.

Die drywer, Pieter Barend Botha, was besig met opleiding by ‘n spoorlyn en het op ‘n trein gewag toe die voorval plaasgevind het.

Die koelbloedige moord op Botha is deur die vervoervakbond (UNTU) se sekretaris-generaal, Steve Harris, veroordeel.

Hy het die “barbaarse daad” veroordeel en gevra dat lede van die publiek na vore moet kom met enige inligting om die polisie by te staan om die moordenaars agter tralies te kry.

Die vakbond het ook ‘n beroep op Prasa gedoen om ‘n ondersoek te doen waarom daar nie genoeg veiligheidspersoneel teenwoordig was toe die voorval plaasgevind het nie.

Metrospoor het aangedui sy treindrywers beoog om te staak na die moord op Botha.

Die Netreg-stasie is in ‘n gebied wat geteister word deur bendes en die treindrywers het die onbenydenswaardige taak om in die gewelddadige omgewing te werk.