Terroriste dreig Frankryk

Nadat Franse aanvalle op basisse van die Islamitiese Staat die terroriste ontwrig het in Mosoel, blyk dit dat hulle ernstig is om Frankryk weer in ’n bloedbad te dompel.

In ’n nuut saamgestelde video opname word Frankryk gedreig dat terreuraanvalle uit weerwraak meer intens gaan word.

In ’n gruwelike video wat onder IS-vegters versprei word deur die sosiale media, word ’n Franstalige woordvoerder aangehaal wat ’n hernude aanslag teen Frankryk aanmoedig.

In die video word die onthoofding van ’n man vertoon, en dan as ’n “duidelike boodskap aan Frankryk” genoem.

Ontleders wat die video bestudeer het, sê dit is waarskynlik in die Noord-Irakse provinsie Nineve gemaak wat nog deur die IS-terroriste beheer word.

Leiers van die IS-magte het vroeër die week hulle oproep herhaal aan sy ondersteuners om aanvalle uit te voer in al die lande wat betrokke is by die gevegte.