Teenstand oor SAUK kring internasionaal uit

Internasionale media organisasies het in ‘n brief aan die SAUK die situasie by die uitsaaier as onuitstaanbaar beskryf.

Sodoende het hulle hul stem gevoeg tot plaaslike joernaliste, vakbonde en drukgroep teen die SAUK se toepassing van sensuur en optrede teen ses joernaliste.

Die wêreld vereniging vir koerante en nuuspublikasies (WAN-IFRA) en die wêreld redakteursforum (WEG) het gesamentlik ‘n brief aan die uitsaaier se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, geskryf waarin daar geëis word dat die aanklagte teen joernaliste teruggetrek word.

Die twee organisasies wat 18 000 publikasies in meer as 130 lande verteenwoordig, het ook hul diepe kommer uitgespreek oor berigte van sensuur by die openbare uitsaaier.

Daar is spesifiek verwys na hul woede oor die skorsing van drie senior joernaliste oor ‘n verandering van die redaksionele beleid voor die munisipale verkiesing in Augustus vanjaar.

Voorts is melding gemaak van die dissiplinêre optrede teen drie ander joernaliste omdat hulle hul opinie gegee het omtrent die ondergrawing van die redaksionele onafhanklikheid by die SAUK.

Die organisasies het hul uitgespreek teen die onlangse besluit wat deur die SAUK-bestuur geneem is aangesien dit ‘n ernstige bedreiging vir mediavryheid inhou.

Daar is vervolgens gesê: “Ons sluit aan by die talle versoeke vir die onmiddellike en onvoorwaardelike terugtrekking van die wangedrag aanklagte teen die betrokke SAUK-joernaliste. Ons vra ook die SAUK-bestuur om die grondwetlike beginsels ten opsigte van mediavryheid, joernaliste se regte en die publiek se reg tot inligting te respekteer.

Die tugsake teen die ses SAUK-joernaliste is weens die druk op veral die uitsaaier se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, die afgelope Vrydag tot 11 Julie uitgestel.

Verskeie vakbonde en drukgroepe asook joernaliste het betoog by die SAUK se kantore in Johannesburg, Seepunt en Durban toe dissiplinêre verhore teen hulle gehou sou word.