Studie onthul feite oor transitorooftogte

Die vermoede dat binne-inligting ‘n deurslaggewende rol speel in transitorooftogte is pas bevestig in ‘n studie, waarin ‘n handvol skokfeite aan die lig gebring word.

Die rowers se waardevolste inligtingsbronne is in die polisie, in transitomaatskappye en selfs onder prokureurs. Op grond van binne-inligting weet die rowers wanneer ‘n groot bedrag geld vervoer gaan word en presies wat die geldwa se roete is.

Hierdie is van die navorsingsfeite wat in ‘n doktorale proefskrif oor hierdie onderwerp deur dr. Hennie Lochner, deesdae verbonde aan Unisa, aan die lig kom.

Die aandeel van prokureurs om van die geroofde geld in trust te hou totdat ‘n rower uit die gevangenis kom, is nogal ‘n openbaring.

Die rowers se voorliefde vir luukse voertuie klink na ‘n voor die hand liggende brokkie inligting, maar dit is bykans ondenkbaar dat universiteitsprofessore aan hulle herberg sou verleen.

Desondanks is dit van die gegewens wat uit die proefskrif blyk en Lochner het met meer as 20 gevonniste rowers in gevangenisse in twee provinsies gepraat om die inligting te bekom.

Volgens Lochner is transitorowers van die gehardste en mees gewetenlose misdadigers van almal.

Hy wou ‘n bydrae tot die polisie se ondersoeke na hierdie tipe misdaad lewer, en het byvoorbeeld bevind dat die modus operandi van al die transitorooftogte is almal presies dieselfde, maar net die spanlede verskil telkens.

Daar is glo twee afskikmiddels wat hierdie rowers liewers ‘n rooftog laat afstel en dit is helikopters in die lug en polisie in die omgewing van ‘n beplande rooftog.

Foto – Hierdie geldwa is voos geskiet