Studente dring aan op gratis onderrig

Gratis onderwys moet vanaf volgende jaar geld anders sal studente bereid wees om ‘n hele jaar lank met vakansie te gaan.

Hierdie dreigement is deur die president van die organisasie, “South African Union of Students” (SAUS), Avela Mjajubana, geuiter op die uitvoerende komitee se vergadering.

‘n Kommissie van ondersoek oor die volhoubaarheid daarvan om gratis hoër onderwys te befonds is in Januarie vanjaar onder leiding van regter Jonathan Heher aangestel.

Volgens Mjajubana is daar ‘n ooreenkoms met president Jacob Zuma oor gratis onderwys bereik, maar hierdie kommissie bekyk volhoubaarheid.

Hy het benadruk dat dit nie is wat hulle wil hê nie, en dat enige instelling vir hoër onderwys wat planne omtrent ‘n verhoging van fooie koester, “toegemaak sal word”.

Die #FeesMustFall-protes het in Oktober verlede jaar begin by Wits, waarna dit na UCT en Rhodes Universiteit versprei, en daarna na ander instellings in die land uitgebrei het.

Hierna het Zuma aangekondig dat daar nie ‘n verhoging van fooie in 2016 sal wees nie.

Saakbeskadiging wat aangerig is tydens die betogings regoor die land en is uiteindelik op bykans R460 miljoen beraam.

Onlangs het die nasionale studente finansiële hulpskema  (NSFAS) aangekondig dat meer as 500 000 oud-studente die staat R20 miljard skuld vir lenings wat aangegaan is. Tagtig persent van die skuldenaars is tans in diens van die private sektor en dus in staat om hul lenings te delg.