Streng veiligheid by hof toe sibbe verskyn

’n Broer en sy suster van Azaadville het vlugtig in die Kagiso-landdroshof verskyn op terreur verwante aanklagte te midde van streng veiligheidsmaatreëls deur swaar gewapende polisie wat ‘n kordon om die hof gevorm het.

Hulle het in verband met aanklagte op die onwettige besit van ‘n skokgranaat en ammunisie verskyn.

Die saak teen Ibrahim en Fatima Patel is tot 20 September uitgestel sodat die polisie verdere ondersoek kan instel.

Hulle moet twee keer ‘n week op ‘n Maandag en Vrydag tussen 8:00 en 20:00 by die polisie rapporteer. Hulle moes ook hulle paspoorte inhandig as deel van hul borgvoorwaardes.

Die sibbe is reeds tydens ‘n vorige hofverskyning op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Die polisie het mense, wat die hofsaal binnegegaan het, met snuffelhonde deursoek nadat die plek vir ploftoestelle gefynkam is.

Die Patels is gearresteer enkele ure nadat die identiese tweelingbroers, Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie deur die Valke in hegtenis geneem.

Fatima Patel het in ‘tradisionale Moslemdrag’ verskyn en was van kop tot toon pikswart gekleed, terwyl haar broer sy kop met ‘n baadjie toegehou het sodat daar nie foto’s van hom geneem kon word nie.

Die Thulsie-broers, wat na bewering verlede jaar probeer het om by die terreurgroep, die Islamitiese Staat (IS) aan te sluit, staan tereg op terrorisme verwante aanklagte.

Die Patels en Thulsies is aangekeer na ‘n jaar lange ondersoek deur die Valke se misdaad teen die staat eenheid. 

Foto – Die Thulsie-broers