Staat "sleep voete" in Parys saak

Die hofsaak teen 11 beskuldigdes in Parys is tot 15 Augustus uitgestel nadat die dossier en klagstaat nogmaals nie aan die verdediging oorhandig is nie.

Dit is egter nou ‘n bevel van die hof gemaak dat die dokumente tydens die volgende hofverskyning oorhandig moet word.

Van die beskuldigdes se regsteenwoordigers het hulle beswaar op rekord geplaas rakende die staat se voeteslepery om die dossier en klagstaat te voorsien en het bygevoeg dat die saak reeds by vorige twee geleenthede uitgestel is om die dokumente te bekom.

Die ondersoek is reeds afgehandel.

Al die beskuldigdes se borgtog is verleng, terwyl die elfde beskuldigde steeds in die sorg van sy moeder is.

Die saak spruit voort uit die hulp wat ‘n groep van sowat 40 mans vroeg in Januarie vanjaar verleen het toe hulle gereageer het op die noodoproep van mnr. Loedie van der Westhuizen, na ‘n aanval op hom op sy plaas. Die twee swartes wat aangekeer is, is dood kort nadat hulle gearresteer is.