So lyk deursnee SA betoger

Die profiel van ‘n gemiddelde protesteerder kan volgens Suid-Afrikaanse munisipaliteite saamgevat word as synde tussen 18 en 35 jaar oud, werkloos en dikwels misdadigers.

‘n Beleidsanalis van die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga), Justin Steyn, het tydens ‘n seminaar besonderhede van die 2016 SALGA-opname bekend gemaak.

Tydens die seminaar van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het Steyn aangehaal uit die opname omtrent munisipaliteite in vier provinsies se indrukke oor onluste.

Hiervolgens word betogers hoofsaaklik as jong en werkloos beskou. In die opname het munisipaliteite aangetoon 69,5% van die protesteerders is tussen 18 en 35 jaar oud en 71% van hulle is werkloos.

Baie munisipaliteite waarmee onderhoude gevoer is, het ook hulle kommer uitgespreek oor die misdaadelement in betogings, en nagenoeg 14,4% van hulle word as misdadigers beskou.

Hier is verwys na die plundering van winkels en die opportunisme wat daarmee gepaard gaan. Sodoende sal ‘n betoging aanvanklik handel oor dienslewering, maar soms in plundering oorgaan.

Volgens Steyn het munisipaliteite gevind dat gemeenskappe hunker na dienslewering, maar dat dienslewering dikwels gebruik word as ‘n verskoning om te betoog deur diegene wat eintlik ander motiewe het.

Foto – Plundering tydens onlangse opstande in gebiede rondom Pretoria