Skikkings kos SAUK miljoene rande

‘n Lang lys van skikkings wat deur die SAUK met afgedankte en geskorste werknemers bereik is, kan na raming uiteindelik meer as R100 miljoen bedra weens die toedoen van die bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng se hoogs omstrede bestuurstyl.

Die goue handdruk van R18 miljoen aan die uitvoerende hoof van die SAUK, Frans Matlala, nadat hy skaars met sy kontraktydperk begin het, is maar net een van sowat sewentien werknemers se koppe wat in die afgelope jare by die uitsaaier gerol het.

Indien die jongste agt werknemers, wie se toekoms tans nog by die SAUK in die weegskaal is, bygevoeg word tot hierdie lys dan kan die skikkings uiteindelik meer as R100 miljoen bedra.

Die openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, se verslag oor die SAUK getiteld, “When Governance and Ethics fail”, het bevind dat regsfooie, skikkingsgeld en toelae aan persone (in haar verslag meld sy veertien persone) wat geskors is daartoe bygedra het dat die uitsaaier se uitgawes met meer as R29 miljoen gestyg het.