Skaars witmielies word uitgevoer

Dit lyk asof Suid-Afrika nie voldoende voorraad witmielies het om in die komende maande se aanvraag te voorsien nie, en tekorte kan op die winkelrak ondervind word.

Die onlangs vrygestelde statistieke toon dat sowat 94,000 ton witmielies uit Amerika en Mexiko ingevoer is vir die tydperk tot 15 Julie.

Dit is aansienlik minder as die 1,2 miljoen ton wat benodig word om aan die plaaslike aanvraag te voldoen, maar die grootste kommer bestaan daarin dat die witmielies op die internasionale markte nie meer geredelik bekombaar is nie.

Die VSA beskik nie meer oor witmielies wat geoormerk is vir die uitvoermark nie, wat ’n ernstige invloed het op die algemene voorraadvlakke van die wêreld.

Die mielies wat uit Mexiko aangekom het, is van ’n swak gehalte, en meulenaars in Suid-Afrika sê die enigste manier om die prys so laag moontlik te hou vir die verbruiker, is om ’n persentasie geelmielies in te meng by witmielies.

Die verstommende is egter dat volgens Graan SA die regering toestemming gegee het dat witmielies nog na buurlande uitgevoer word asof dit volop beskikbaar is.

Die verwagte witmielie oes sal vanjaar sowat 3,100 miljoen ton wees, wat ietwat minder is as wat die land nodig het.

Tot middel Julie het die land meer as 13,000 ton mielies uitgevoer na naburige lande, waarvan sowat 60% witmielies was.

Dit is nie bekend teen watter prys die mielies aan buurlande gelewer word nie, en boere vra of daar wel vir die mielies betaal word.