Sensitiewe Krygkor data gelek

Groot geheimhouding omhul die betaling van R230 miljoen in slegs twee jaar aan ‘n privaat lugredery om die ANC-regime se vliegtuie vir baie belangrike persone (BBP’s) in stand te hou.

Die inligting is uitgelek nadat kuberkrakers die wapenverkrygingsagentskap van die verdedigingsdepartement, Krygkor, se data binnegedring het en ‘n groot hoeveelheid daarvan op die sogenaamde “donker web” gelaai het.

Volgens Krygkor het die kuberkrakers nie geklassifiseerde inligting openbaar nie, maar volgens lugvaartkenners is dit beslis vanuit ‘n kommersiële oogpunt sensitiewe inligting.

ExecuJet verhuur privaat vliegtuie aan die staat en sy sustermaatskappy, ExecuJet Maintenance, het deur die jare verskeie tenders gekry om die Suid-Afrikaanse Lugmag se vliegtuie vir BBP’s in die lug te hou.

Dit is nie bekend hoeveel en watter vliegtuie ingesluit is by hierdie kontrakte ten bedrae van R230 miljoen nie. Dit is byvoorbeeld nie duidelik of die onderhoudswerk aan president Jacob Zuma se vliegtuig, bekend as die Inkwazi, deel vorm van die betrokke bedrag nie.

Foto – Die Inkwazi