Seldsame Orangoetang byna uitgesterf

Die Borneotiese orangoetang en die Soematraanse orangoetang wat die grootste aapsoort in Asië is, word nou ernstig bedreig deur totale uitwissing.

Die Internasionale Unie vir Natuurbeskerming het gewaarsku dat die diere se getalle sodanig verminder het dat dit algehele uitsterwing in die gesig staar.

Die organisasie het in sy jongste verslag ook gemaan dat die grootste vissoort, die walvishaai, ook bedreig word en onder geen omstandighede gesteur moet word nie.

Jane Smart, die direkteur van die Natuurbeskerming sê in ’n persverklaring dat die alarm afgegaan het oor die voortbestaan van die twee besondere spesies, en natuurbewaarders sal veel strenger met hulle bewaring moet wees.

Die organisasie het die Borneotiese orangoetang na die kategorie “ernstig bedreig” oorgeplaas.

Die volgende lys waarheen die spesie oorgeplaas kan word, is “uitgesterf”.

Alhoewel daar nog sowat 100,000 Borneotiese orangoetangs leef, word hulle getalle minder omdat die reënwoude waar hulle leef, stelselmatig kleiner word op die eiland Borneo vanweë die ontbossing wat deur mense veroorsaak word.

Die gebied word ontbos om plek te maak vir palmolie plantasies, en die inwoners neem die diere gevange en verkwansel dit in Asië aan sogenaamde geneeskundiges.

In 1975 was daar bykans 300,000 van die ape in die gebied, maar word deesdae in groot getalle gevang, of selfs gedood.