SAUK daag bevinding teen hom uit

Die SAUK se bestuur gaan hom glad nie steur aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se bevinding dat die uitsaaier sy besluit moet herroep om nie gewelddadige betogings tydens nuusprogramme te wys nie.

Die bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, het die beslissing uitgedaag selfs al moet dit na die grondwetlike hof gaan.

Die uitsaaier beoog volgens hom om werknemers wat nie lojaal is nie met “Operation Cleanup” vas te vat.

Okosa het bevind die SAUK oortree sy uitsaaivoorwaardes deur nie geweld in sy nuusprogramme te vertoon nie.

Die besluit van die SAUK hieromtrent druis ook teen die Grondwet in, aldus die voorsitter van Okosa, Rubben Mohlaloga.

Hy het bygevoeg dat die bevinding bindend is. Dit beteken dat die SAUK se uitsaailisensie teruggetrek kan word indien hy nie voldoen aan die nodige vereistes nie.

Die SAUK is sewe dae tyd gegee om op Okosa se bevinding te reageer.

Die uitsaaier het intussen bekend gemaak dat verdere klagtes teen drie senior joernaliste ingestel is wat teen die besluit beswaar gemaak het om nie gewelddadige betogings uit te saai nie.

Foeta Krige, Suna Venter en Thandeka Gqubule is deur die SAUK in kennis gestel dat hulle aan verdere wangedrag skuldig gemaak het deur hulle voortgesette weiering om aan die SAUK se opdragte te voldoen.

Hierdie verdere wangedrag is omdat hulle die media van hulle skorsings ingelig het.