SANW ammunisiedepots maklike teikens

Totdat ‘n nuwe veiligheidskontrak beding is, is drie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se grootste ammunisiedepots vir eers na bewering feitlik onbewaak.

Een van hierdie depots in die Noord-Kaap is die grootste van sy soort in die Suidelike Halfrond, berig ‘n Afrikaanse Sondagkoerant wat met ‘n veiligheidspesialis gepraat het wat 20 jaar by die bewaking van nasionale sleutelpunte betrokke was.

Weens die opskorting van gespesialiseerde veiligheidmaatreëls is dit egter nou moontlik om sonder te veel moeite toegang tot die grootse depot in die Noord-Kaap, en twee kleiner depots noord van Kimberley en naby Pietersburg te kry.

Hierdie drie depots word tans net deur ‘n paar militêre wagte opgepas nadat daar al 18 maande lank geen veiligheidskontrak van krag is nie.

Die opskorting van verskeie staatskontrakte by die departement van openbare werke as gevolg van die Valke se ondersoek na wanbesteding by president Jacob Zuma se Nkandla-woonkompleks is glo vermoedelik een van die redes vir hierdie toedrag van sake, is berig.

By die depot in die Noord-Kaap is die elektriese heining (na behoorlike kennisgewing deur die kontrakteur) afgeskakel.

By aldrie die depots is die gesofistikeerde biometriese veiligheidstelsel wat aangebring is net voor die kontrak aan die einde van 2014 finaal beëindig is, in onbruik.