Sanef kap "brute magsvertoon" by SAUK

Die afdanking van vier senior joernaliste deur die SAUK sonder ‘n tugverhoor is deur die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) as “brute magsvertoon” bestempel.

Die joernaliste, Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay is met onmiddellike effek gister op 18 Julie in die pad gesteek omdat hulle volgens hulle afdankingsbriewe die uitsaaier “nie respekteer nie,” hulle “gedrag nie gaan verander nie” en hulle “voortgaan om die uitsaaier en sy bestuur te minag”.

Die afdankings volg op bykomende klagte wat op hulle bedien is waarvolgens die SAUK hulle beskuldig het dat hulle voortgaan om die hulleself te distansieer van die uitsaaier se besluit om nie gewelddadige betogings uit te saai nie. Nog ‘n beskuldiging was dat hulle die media ingelig het oor die geskil tussen hulle en die SAUK.

Hulle het tot verlede Vrydag kans gehad om redes aan die SAUK te gee waarom hulle nie afgedank moet word nie. Hulle regsverteenwoordigers het hierop geantwoord dat  twee aparte regsgedinge reeds van stapel gestuur is en dit nie gepas sou wees om op die jongste beskuldigings te reageer nie.

‘n Aansoek om direkte toegang tot die konstitusionele hof is Vrydag gerig, terwyl daar ook dringende aansoek aan die arbeidshof gerig gaan word om die skorsings ter syde te stel en die tugproses te staak.

Die SAUK moes kennis gee of hy die betrokke aansoek gaan teenstaan, maar het dit nie gedoen nie omdat die joernaliste summier afgedank is.

Die joernaliste gaan hulle pleitstukke vir die dringende aansoek nou aanpas na die jongste verwikkeling en ook ‘n kostebevel teen die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, in sy persoonlik hoedanigheid vra.

Die SAUK het intussen in sy reaksie opgemerk hy is “nie bekommerd oor die publiek se reaksie nie, want die openbare uitsaaier laat nie sy doen en late deur die publiek bepaal nie.”

Volgens die SAUK word dit suiwer as ‘n arbeidskwessie.

Die wye reaksie vanuit arbeidsgeledere en politieke kommentators se kringe asook deur die media handel hoofsaaklik oor die SAUK se straffelose magsvergrype en politieke aanstellings wat stewig in die kussings bly sit, en weerspreek enige vereenvoudiging van die voortslepende krisis by die uitsaaier.