Salarisse kos munisipaliteite al hoe meer

Munisipaliteite se personeelverwante koste het die afgelope vyf jaar met 44% gestyg, oftewel met R22 miljard toegeneem.

Salarisse en personeelkoste het die afgelope boekjaar munisipaliteite die meeste gekos, terwyl instandhouding baie laag op die prioriteitslys is.

‘n Yslike 25,6% is weggevreet deur salarisse en personeelkoste, terwyl instandhouding en herstelwerk van munisipale geriewe en toerusting soos waterpype en paaie slegs 5% toegedeel is.

Statistiek Suid-Afrika (SSA) se sensusdata wys dat sowat R14,2 miljard in die 2014-’15-boekjaar aan herstelwerk en instandhouding spandeer is. Dit is R2 miljard meer as in die vorige boekjaar, maar net ‘n fraks van die totale bedryfsbegroting van R285 miljard vir munisipaliteite.

Die totale bedryfsbegroting van hierdie munisipaliteite het van R264 miljard in 2014 tot R285 in 2015 toegeneem.

Die wanbalans het pas in SSA se finansiële sensusdata van al die land se munisipaliteite aan die lig gekom.