SA-Airlink vra verskoning oor vals alarm

Die redery SA-Airlink het verskoning gevra oor ‘n vals alarm dat ‘n vliegtuig onderweg vanaf Kaapstad na die Wonderboom-lughawe in Pretoria moontlik gekaap is.

Die gerug het mense behoorlik op hol gehad en die lughawe het gewemel van lede van die polisie se spesialiseenhede, snuffelhonde, mediese personeel, weermaglede, die brandweer en die metropolisie.

Die personeel is ontplooi as ‘n veiligheidsmaatreël nadat die waarkskuwing glo ontvang is skaars tien minute voordat die vliegtuig sou land.

Van die passasiers het agterna aan die media gesê hulle het gedink hulle is gekaap omdat die vliegtuig meer as twee uur lank op die landingstrook gestaan het en hulle aanvanklik geen terugvoer ontvang het nie.

Passasiers wat aanlyn gegaan het, het gelees dat die vliegtuig pas gekaap is. Die kaptein het egter op daardie stadium die passasiers verwittig dat dit ‘n vals alarm was en dat dit weens ‘n tegniese fout plaasgevind het.

Een van die passasiers was nogtans bra skepties oor die bewering dat dit slegs ‘n vals alarm was.

SA-Airlink woordvoerder, Karin Murray, het in ‘n mediaverklaring die versekering gegee dat vlug SA8678 se kapingsalarm foutiewelik geaktiveer is.

Sy het bevestig dat die 72 passasiers en vier bemanningslede veilig is.

‘n Interne ondersoek gaan ingestel word na die oorsaak van die vals alarm.

Foto – Wonderboom-lughawe is afgesper tydens die voorval