Rusland is geen bedreiging

Navo wil Rusland “demoniseer” en skuif sy troepemag na die westelike grens van Rusland met die argument dat die bedreiging teengestaan moet word, wat in werklikheid hoegenaamd nie bestaan nie.

Met die woorde het die Russiese minister van buitelandse sake gereageer op Navo se besluit in Warskou om ’n groot troepemag op die oostelik grens met Rusland te ontplooi.

Die hele Vrydag het Navoleiers gepraat oor militêre versterking in die oostelike state “weens die bedreiging van Rusland” teen voormalige state van die kommunistiese Sowjet Rusland.

Rusland bedreig ook die Oekraïne, en alhoewel die land nie ’n lid van Navo is nie, vorm dit ’n integrale deel van die bedreigde streek, was die uitgangspunt van Navoleiers.

Rusland het in ’n verklaring gesê die optrede van Navo word gesien as ’n poging om die aandag af te lei van die “ontwrigtende rol wat Navo vervul” in die gebied.

“In teenstelling tot Navo se verklaarde doel om vrede in Europa te verseker, konsentreer die alliansie op die beswering van ’n Russiese bedreiging wat nie bestaan”, lui die verklaring.

Die Franse president het vroeër tydens die Warskoubyeenkoms van Navolande gesê Frankryk sien geen bedreiging deur Rusland nie, maar beskou die land eerder as vennoot in die stryd teen terrorisme.

Die verskille in mening tussen Navo en Moskou sal blykbaar later hierdie week in Brussel bespreek word wanneer ambassadeurs van die twee mekaar ontmoet. Die vermoede bestaan dat die Navo-besluite dan aan Rusland oorgedra sal word.

Die ontmoeting tussen die twee word onder die vaandel van die Navo-Rusland Raad gehou.

President Poetin van Rusland het vroeër gesê as Navo deur sy optrede poog om ’n wapenwedloop aan die gang te sit, verkwis hulle tyd en energie, want Rusland het geen rede om daarby betrek te word nie.