Renault Kadjar 1.2 TCe Dynamique

Sportnutsvoertuie is ‘n bekende gesig op ons land se paaie. Die Renault Kadjar is een van daardie voertuie en ‘n mens het moeite om jou nie te laat bekommer oor die grootte van die kragbron nie. Dit is inderdaad aan die klein kant, maar die werkverrigting daarvan is uit die boonste rakke.

 

‘n Bekende gesegde lui dat daar nie gekyk moet word na grootte die van die kragbron nie, maar na watter krag dit lewer. In die geval van die Kadjar is dit die geval. Hierdie 1197 kub. sentimeter, turbo aangejaagde petrolenjin verrig goeie werk. Die dubbel oorhoofse nokas, 16 klep in lyn vier silinder enjin staan nie terug vir sy mededingers nie. 96 kW is beskikbaar by 5500 o.p.m. en 205 Nm wringkrag is beskikbaar by 2000 o.p.m. ‘n Ses spoed handratkas word gebruik en die rat oorskakeling geskied glad en sonder moeite. Die versnelling van 0 tot 100 km/uur neem 10,4 sekondes en die topsnelheid volgens die vervaardiger, is 189 km/uur.

 

Die meeste 1200 kub. sentimeter turbopetrol kragbronne ontwikkel tussen 66 en 81 kW terwyl daar drie silinder enjins, soos byvoorbeeld die Peugeot 308 GT wat selfs sterker reageer. Ford se 1 liter enjin lewer 92 kW en 170 Nm. So ‘n mens kan jou maklik misgis.

 

Laairuimte van hierdie motor is nogal ‘n verrassing. Die agterste passasiers het genoeg kop- en beenruimte en kan dus ‘n gemaklike sitposisie inneem. Verder is daar ruim pakplek agter in die voertuig. Wanneer die sitplekleuning plat gevou word, vermeerder dit van 370 liter na 1478 liter.

 

Die grondvryhoogte is 200 mm. Die vertrek hoek is 28 grade en die benaderingshoek is 18 grade. Die padgedrag, op selfs ‘n grondpad, is goed en dit kan werklik geniet word.

 

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en al die nodige toerusting is beskikbaar. Van gemaklike sitplekke tot die rathefboom wat op ‘n gerieflike hoogte gemonteer is en wat maklik in die hand pas. Die ABS-remstelsel en lugsakke is behulpsaam om om te sien na die veiligheid van die insittendes en ‘n moeite vrye rit te verseker. Die instrumente op die instrumentpaneel is duidelik leesbaar en is reg voor die bestuurder gemonteer. Radio en lugversorger is standaard toerusting en is behulpsaam om ‘n rit op die lang pad, moeitevry te maak.

 

Byvoegings wat tot hierdie motor gemaak kan word, is blindekol opspoorder, elektries verwarmde, leerbedekte sitplekke, truparkeer kamera en nog talle ander handige stukke toerusting.

 

Dit is wel nie ‘n Gordini van die jare sestig nie, maar Renault-ondersteuners en andere sal met genoegdoening die motor kan geniet. Daarmee gesê, u kan gerus u naaste Renault-handelaar gaan besoek en u gaan vergewis van hierdie motor.