Regspanne wil aksie teen SAUK-ses keer

Regspanne van ‘n Afrikaanse vakbond gaan poog om twee verskillende tugsake vandag by die SAUK uitgestel te kry, en indien dit nie slaag nie sal ‘n dringende aansoek by die arbeidshof ingedien word om die verrigtinge te keer.

Die tugsake begin om 9:00 op presies dieselfde tyd as wat ‘n beplande protesoptog teen SAUK-sensuur begin.

Senior joernaliste van die SAUK, Foeta Krige, Suna Venter en Thandeka Gqubule asook hulle kollegas Jacques Steenkamp, Krivani Pillay en Busi Ntuli is gisteroggend in kennis gestel hulle tugsake begin vandag.

Die Afrikaanse vakbond wil die tugsake uit laat stel totdat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) uitsluitsel oor die geldigheid van die SAUK-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, se opdrag gee dat gewelddadige betoging nie gedek mag word nie.

Nog kwessies wat in die tugsake teen die ses ter sprake is, is die kort kennisgewingperiode (22 uur), die bemoeiliking om ‘n verdediging saam te stel omdat hulle toegangskaarte tot die SAUK-gebou afgevat is en die verbod dat hulle nie regsverteenwoordiging mag hê nie.

Vrese bestaan dat die tipe optrede teen SAUK-joernaliste sal voortduur en Motsoeneng sy greep op die uitsaaier sal verstewig.

Foto – Foeta Krige op Facebook