Prasa met slenters gekul

‘n Vermeende slenter omtrent werksaanbiedinge deur ‘n maatskappy wat net op papier bestaan, het die voormalige Prasa-hoof Lucky Montana blykbaar gehelp om ‘n reuse salarisverhoging te beding.

Hy het volgens ‘n Afrikaanse Sondagkoerant in 2012 die Prasa-raad om ‘n salarisverhoging van 20% gevra op grond van ‘n aanbod om die uitvoerende direkteur van ‘n bykans onbekende maatskappy te word. ‘n Direkteur van Gypsum Fertilizer Company is boonop ‘n begunstigde van Prasa-tenders.

Die eerste werksaanbod was R4,5, miljoen, waarna dit na R5,5 miljoen verhoog is.

Montana kon uiteindelik daarin slaag om ‘n 12% verhoging by Prasa te kry, terwyl sy salarisverhogings andersins gewoonlik 5% was.

Die ‘ingenieur’, Daniel Mtimkulu is verlede jaar deur Prasa afgedank nadat daar in die media onthul is dat hy oor geen ingenieurskwalifikasies beskik nie. Hy het ook op ‘n salarisverhoging aangedring nadat hy kwansuis ‘n werksaanbod gekry het. Die betrokke maatskappy het egter later aan Prasa bevestig dat Mtimkulu die aanbod vervals het.

Foto – Trein blou