Portugal wen eerste rondte vir VN

Die Verenigde Nasies het ’n eerste rondte stemmery afgehandel tussen genomineerdes om ’n opvolger aan te wys vir die huidige sekretaris-generaal Ban Ki-moon wie se termyn vanjaar verstryk.

Volgens diplomate wat op hoogte gehou word van die verloop in die VN het die voormalige eerste minister van Portugal, Antonio Guterres, die grootste steun geniet.

Kort op sy hakke was die voormalige president van Slowenië, Danilo Türk, wat ewe gewild is onder wêreldleiers.

Die 15 state wat sitting het in die VN se Veiligheidsraad beskik oor die mag om te besluit wie die kortlys haal in die wedloop vir die volgende sekretaris-generaal.

Ban Ki-moon se termyn verstryk op 31 Desember vanjaar, en een van die 12 genomineerde kandidate moet dan gekies word as opvolger.

Nadat die Veiligheidsraad hul beslissing gemaak het, moet die Algemene Vergadering van die VN hulle stemming uitbring.

Benewens die twee kandidate wat die grootste aantal stemme getrek het in die eerste rondte, is daar nog prominente kandidate soos die voormalige eerste minister van Nieu-Seeland wat ook as ’n sterk kandidaat beskou word.

Nadat die Veiligheidsraad ’n verkiesing deur eliminasie toegepas het, word die finale stemming gehou deur die Algemene Vergadering van die VN gedurende Oktober.

Foto –  Antonio Guterres