Poetin besoek Duitse skool

Stel jou voor jy gaan skool toe een oggend en word by die ingang deur die president van Rusland begroet met ’n stewige handdruk.

Dit is wat gebeur het met die leerlinge van die Duitse Skool in Moskou wat tans werk aan ’n projek om die geskiedenis aangaande die Tweede Wêreldoorlog op te teken.

"Schönen guten Morgen, liebe Freunde!" was die helder klinkende woorde wat in die oggendlug weerklink het.

Met die breë glimlag op die president se gesig, het hy daarin geslaag om die kinders se gesindheid te wen, en kon hy later sy rede met gesag oordra aan die kinders.

Dit is egter nie die eerste keer dat president Vladimir Poetin die skool besoek nie, want voordat hy die uitnodiging ontvang het as staatshoof om die skool te besoek, was hy ook ’n gewone ouer wat sy kinders as leerlinge daar afgelaai het.

Vir Poetin was dit belangrik dat sy kinders Duits leer praat en skryf, net soos wat hy die taal geleer het in die dae toe hy as agent van die KGB die taal nodig gehad het.

Die projek in die Duitse Skool word van belang geag omdat die huidige geslag slegs enkele grepe van die oorlog leer, en word dit as belangrik beskou dat die werk volledig opgeteken word, sodat die 17-jariges wat daaraan werk, behoorlik ingelig sal wees oor die gebeure, en dit as ’n leerstuk sal nalaat vir die leerlinge wat kom.

Die leerlinge was beïndruk met die president se belangstelling om die skool te besoek en hulle aan te prys vir die belangrike werk waarmee hulle besig is.