Plant Philodendron Xanadu vir min moeite

Hierdie plant is redelik bekend aan tuiniers en potplantliefhebbers. Dit kan binnenshuis of in die skadugedeelte in die tuin geplant word. Dit is in die familie Araceae en die rang is Alismatales. Daar is verskeie spesies van die Philodendron-plante. Party word baie groot en ander is klein plante.

 

Philodendron Xanadu is oorspronklik van Brasilië afkomstig en is ‘n tropiese of subtropiese plant wat van warm vogtige klimate hou. Hierdie plant was in 1983 gekies as ‘n skaars saailing in Wes Australië. Dit was ook Australië se plant van die jaar in 1988. Die naam is na Xanadu verander deur die “House of Plants of Australia” en toe het hul dit benoem as hul plant van die jaar.

 

In die VSA word die plant onder die kultivar, “Winterbourn”, bemark. Dit word ook die “Showboat” genoem. Die plant kan wel met saad voortgeplant word.

 

Philodendron-plante vorm digte stamme wat redelik regop uit die grond groei. Dit word tot 2 meter hoog en die wortels groei baie diep. Dit maak ook aanhoudend lang wortels uit die stamme wat weer in die grond anker.Dit het digte, blink groen spiesvormige blare wat diep gelob is en word tot 40 cm lank en 30 cm wyd. Die blare het ‘n dikkerige aar in die middel wat ‘n rooi tint het. Dit aard die beste in die skaduwee en heet sommer almal welkom indien dit op die stoep by die voordeur in ‘n pot staan. In koel gebiede is dit beter om hierdie plant op die patio of binnenshuis te hou. Die kleiner variëteit groei ook baie mooi in groot handmandjies.  Dit groei egter goed in Suid-Afrikaanse toestande.

 

Dit is ‘n plant wat hom leen tot die skep van ‘n pragtige landskap. Dit vertoon ook mooi wanneer dit alleen onder die boom geplant is of ook met ander plante rondom. Die blare kan egter die ander plante benadeel, want dit gaan die lug en lig van die ander plante afkeer. Die plante is toksies en indien u daarmee gewerk het, met of sonder handskoene, maak seker dat u die hande goed was daarna.

 

Gaan besoek u kwekery en skaf een van hierdie min moeite plante aan. Geniet u tuin tot volgende keer.