Plaaslike sensuur planne wek kommer

Die afskakeling van internettoegang deur ‘n regering om protes in die kiem te probeer smoor, is wêreldwyd aan die toeneem volgens die drukgroep, Access Now.

Vanjaar was daar reeds 20 sulke afskakelings teenoor verlede jaar se 15 aangetekende gevalle. Een van die mees onlangse gevalle, naamlik dié in Zimbabwe, waar WhatsApp en Facebook geblokkeer is, is nie eens bygereken by vanjaar se syfer nie.

Die lande waar internettoegang vanjaar gemuilband was, sluit onder meer Algerië, Ethiopië, Oeganda, Tsjad, Indië, Pakistan, Sirië, Irak, Noord-Korea, Viëtnam, Maleisië, Bahrein, Turkye en Brasilië in.

Die groot brandmuur (“firewall”) wat in China geld, word nie deur Access Now, wat hom beywer vir digitale regte regoor die wêreld verreken nie.

Groot kommer bestaan oor die Suid-Afrikaanse regering se steun aan lande soos China, Rusland en Kuba om ‘n Verenigde Nasies (VN)-resolusie oor internetvryheid te wysig sodat muilbandaksies sou goedkeur.

Die resolusie is sonder die wysigings, ondanks die besware, aanvaar.

Twee wetsontwerpe wat veral plaaslik bekommernis wek oor moontlike magsvergrype deur die ANC-regime ten opsigte van internetvryheid, is die Wetsontwerp op Kubermisdaad en –veiligheid asook die Wysigingswetsontwerp op Rolprente en Publikasies.

Foto – Access Now