Perspektief – Partypolitiek en plooibare beginsels

In die afgelope weke het politieke partye hul verkiesingsmanifeste en kandidate bekend gemaak.

 

Geweld weens ontevredenheid met blatante vergrype het baie streke, maar veral Pretoria in ´n wurggreep gehad. Dit is dan baie maklik om (sogenaamde) opposisie partye en die hoofstroom media se verklarings te aanvaar en te reken sulke vergrype toon juis waarom die ANC uit die kussings gelig moet word.

 

Kom ons roep ons dan – as oefening in nugtere denke – nóg ´n party se manifes voor die geestesoog: die belofte van die destydse NP, van sogenaamde grondwetlike beskerming, ruimte vir minderhede deur koalisieregering en beskerming van godsdiens, taal, kultuur en eiendomsreg.

 

Intussen het dit aan die lig gekom dat FW de Klerk en Roelf Meyer in wese die destydse kabinet mislei het, nadat hulle Joe Slovo se vyf jaar perk op minderheidsregte aanvaar het. Die sogenaamde “sunset clause” – ´n klassieke kommunistiese taktiek.

 

En die kabinet, ofskoon geskok, het gedoen wat elke ‘beginselvaste’ politikus doen in ´n krisis – hul posisies en pensioene beskerm deur koers te verander.

 

Politieke partye is voor elke verkiesing vol beloftes. Elke party kan aan kiesers hul “program van beginsels” of soortgelyke grondslag dokument voorhou.

 

Maar in die politiek geld slegs een reël: plooibaarheid, ter behoud van die magsetel, invloed en geld. Vroeër vanjaar het ´n bekende politieke ontleder dit raak verwoord, in antwoord op ´n vraag oor politieke koalisies.

 

Elke party verklaar dat sy beginsels vasstaan en dat daar nie op toegegee sal word deur koalisies nie. Maar daardie selfde beginsels is sekondêr wanneer ´n gerieflike koalisie die verskil tussen regerende mag en opposisie beteken by die stembus. In hierdie opsig, plaaslik, is veral die groter partye skuldig. 

 

Verder is dit altyd insiggewend hoe sogenaamde “oorloop” geleenthede verloop. Dit is nou wanneer ´n verkose kandidaat wat sien dat sy/haar setel in gedrang kom, kan “oorloop” na ´n ander party, met behoud van daardie verkose setel. Gewoonlik na die party wat die beste kans staan om die setel te verower. En daardie oorloop gaan gewoonlik gepaard met groot persdekking en verklarings van hernieude verbintenis tot die nuwe party se “beginsels” – wat klink na een fontein waaruit vars én brak water vloei.

 

Maar terug by die Slovo-kompromis: magsdeling met minderhede sou slegs vir vyf jaar geld. Dit is insiggewend dat die leuenaar van leuenaars, Nelson Mandela, na sy eerste termyn ‘uitgetree’ het.

 

Aan die einde van daardie wittebroodstermyn was dit bloot een-mens-een-stem demono-kratiese onderdrukking vir minderhede.

 

En dít bied die sleutel tot blatante oneerlikheid vir enige klein politieke groepering met finansiële- of magsambisie. Geen klein party het enige invloed in die regering van die land nie, anders as om ´n skyn van regmatigheid te help skep.

 

En daarvoor word die houers van sodanige minderheidsetels ruim vergoed. Vir gewone LP’s bykans R 1miljoen per jaar, vir enige Jan Rap en sy maat wat ´n partyleier is, bykans nóg R 200 000. Selfs op plaaslike regeringsvlak is die leuen-loon byna R 500 000!

 

Hierdie inherente oneerlikheid om beloftes te maak wat doodgewoon nooit haalbaar is nie – toon die inherente gebrek aan integriteit by politici in hedendaagse SA politiek.

 

Nog ´n rede waarom politici partye begin, is om toegang te verkry tot staatsfondse. Die mees onlangs gepubliseerde 2013/14-verslag toon hoe politici gesamentlik meer as R 114 miljoen uit die staatskas ontvang, bo en behalwe hulle vergoedings, toelaes en ander staatsvoordele. Die kleinste toedeling, sowat R 124 000, is nie te versmaai nie in ´n land geplunder tot in armoede.

 

En les bes is persoonlike ambisie ook ´n sterk dryfveer. Ons het reeds male sonder tal gesien hoe plaaslike, onafhanklike kandidate ingesluk word deur hoofstroom partye. Sekerlik met die belofte van standhoudende invloed en geld, en sodoende enige ongemaklik eerlike stem uit die politieke arena verwyder.