Paniek heers in Clinton kamp

In ’n onafhanklike meningspeiling wat pas vrygestel is, het die uitslag daarvan paniek veroorsaak in die Hillary Clintonkamp.

Met die nasionale konvensies van beide die Republikeine en die Demokrate voor die deur, is die stryd skielik anders as wat die doemprofete vir die afgelope maande voorspel het.

Volgens die vorige vier opnames het dit geblyk dat Hillary Clinton gemaklik voor is in die wedloop na die Amerikaanse Wit Huis om die land se president te word.

Met die pas vrygestelde meningspeiling se resultate het Donald Trump haar ingehaal, en meningsvormers reken dit kan selfs wees dat Trump haar verbygegaan het en groter steun onder die kiesers het as die voormalige minister in die Obama regering.

In ’n ander peiling wat deur die linkse “New York Times” gedoen is, het elkeen van die twee kandidate 40% steun van kiesers.

’n Maand gelede was Donald Trump met sowat 6% agter teen Clinton, en politieke ontleders sê die situasie kan vir Trump verder verbeter nadat dit bekend geword het dat Clinton moontlik aangekla gaan word vir meineed.

Die opname toon ook dat 90% van die deelnemers aan die opname, gesê het hulle het klaar besluit vir wie hulle sal stem.

Dit blyk dat die bevinding van die FBI oor Clinton se e-pos skandaal ’n beduidende rol speel, en 67% van die deelnemers aan die peiling reken sy is nie betroubaar genoeg om as president verkies te word nie.

Dit blyk dat Clinton veel steun kry van vroue en swart Amerikaners, terwyl Trump ’n sterk aanhang uit verskillende Christelike kerke en blanke mans het.

Waarnemers sê Clinton se steun kan styg noudat Bernie Sanders sy steun toegesê het aan haar.

In twee opvolgmeningspeilings deur dieselfde instansies is verwarrende resultate verkry, wat die vermoede laat ontstaan dat die Amerikaanse liberale pers die werklike situasie probeer verbloem.

Dit is alombekend dat die VSA se politieke meningspeilings van twyfelagtige aard is, en gevolglik n geringe invloed uitoefen op die besluitneming van die kiesers.