OVK – geweld moet SA bekommer

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommisie (OVK) moet die gewelddadige betogings in aanloop tot die munisipale verkiesing nie net die kommissie bekommer nie, maar alle Suid-Afrikaners.

Die kommissie het die hoop uitgespreek dat politieke partye hulle lede in toom kan hou en verdere gewelddadige protesoptrede sal verhoed.

Die adjunk-voorsitter, Terry Tselane, het aangedui dat die OVK voortgaan om die situasie te monitor en samesprekings met politieke partye voer om seker te maak dat sulke kwessies aangespreek word sodat daardie “tipe uitdagings nie oorspoel in daardie prosesse” nie.

Die OVK het bevestig dat 200 politieke partye en meer as 61 000 kandidate aan vanjaar se verkiesing deelneem.

Die instelling se kommer spruit veral voort uit die geweldpleging wat onlang etlike dae lank in Pretoria gewoed het oor vermeende ongelukkigheid omtrent die ANC se benoeming van Thoko Didiza as die party se burgemeesterskandidaat.

Aanvalle op politici en lede van politieke partye het ook op verskeie plekke in die land plaasgevind.

Foto – Die onlangse geweldpleging en vandalisme in Atteridgeville