Opvoeding oor Moslem geloof nodig

’n Dringende vergadering is vir vandag deur die King’s School in Linbro Park belê nadat die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi definitiewe optrede geëis het oor ‘n brief omtrent die Moslem-geloof wat deur die skool uitgestuur is.

Lesufi het dadelik ‘n span na die Christelike skool gestuur en dié is glo besig om ‘n verslag saam te stel.

Die ‘aktivis’, Yusuf Abramjee, het intussen aangedui dat hy die verskoning van die skool se hoof van studentesake en die skrywer van die brief, Bob Fuller, vir eers aanvaar.

Maar hy is van mening dat die Moslem-geloofsgemeenskap ‘n ontmoeting met Fuller moet reël sodat hulle hom kan opvoed omtrent hulle geloof.

Abramjee het die brief, wat hy as anti-Islam en Islamofobies beskou, op Twitter geplaas waar dit met groot woede begroet is.

Hy het aan die skoolhoof, die LUR vir onderwys en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte geskryf die brief bevorder rassehaat en onverdraagsaamheid. Voorts is dit volgens hom Islamofobies.

Hy het daarop aangedring dat die skool se brief onmiddellik teruggetrek moet word en ‘n onvoorwaardelike verskoning aan die Moslem gemeenskap gevra moet word.

In die brief word vertel hoe ‘n Moslem sakeman ‘n moskee naby die skool gebou het en hoe die imam se gebede daagliks weerklink.

Ouers word versoek om te bid vir die Moslems om tot die reddende wete van Jesus Christus te kom, en om hulle kinders aan te moedig om dieselfde te doen.

Voorts word daar melding gemaak van die “yslike verskille tussen Moslem en Christen gebede,” en wat elk sou behels.

Uiteindelik sluit die briefskrywer af met dankbaarheid oor die daaglikse herinnering om vir Moslems te bid om tot die reddende wete van Jesus Christus te kom en voorbidding te doen vir Christelike sendelinge, “sommige wat ek persoonlik ken, wat daagliks uitreik na Moslems – dikwels deur hulle lewens te waag”.

Die slot herhaal die versoek om te bid omdat gebede ‘n verskil maak.

Foto- Die King’s School se brief