Opel Astra 1.0T Essentia

Die Opel Astra 1.0T Essentia met sy vaartbelynde bakwerk trek aandag oral waar dit op die pad is. Hierdie is een van Opel se 14 J-series Astra-modelle wat beskikbaar is. Daar is 14 modelle waarvan agt luikrug en ses, sedan motors is. Pryse wissel van R254,000 vir die intreevlak motor tot R582,600 vir die mees luukse model.

Die Essentia se turbo aangejaagde, 999 kub. sentimeter kragbron mag die indruk skep dat dit nie aan al die vereistes kan voldoen nie. Dit is egter alles behalwe die geval. In die stad en op die oop pad is die werkverrigting van hoë standaard. Alhoewel die kragbron slegs 77 kW voorsien is die wringkrag ‘n goeie 170 Nm. Dit stel die motor in staat om bult op en bult af die snelheid van 120 km/u met gemak te kan handhaaf en indien nodig, kan dit maklik versnel na ‘n hoër snelheid.

Afgesien van ‘n doeltreffende enjin, sorg die vaartbelynde bakwerk dat die windweerstand van 0,32 tot 0,285 verminder het. Alhoewel die bakwerk se lengte verkort is en die dak laer is, is die binne-ontwerp van so ‘n aard dat die agterste passasier meer beenspasie het en selfs vir die kop en skouers is daar meer spasie. Die motor het van model tot model selfs 120 tot 200 kg in gewig afgeskud. Die bakwerk is verstewig en dit verseker dat die padgedrag verbeter het.

Hierdie motor het nie allerhande elektroniese hulpmiddels wat vir die bestuurder dink nie, soos byvoorbeeld ‘n trukamera nie, maar ‘n mens kan daarsonder klaar kom. Van die toerusting wat wel beskikbaar is, sluit in banddruk moniteerstelsel, ses lugsakke, twee stelle ISOFIX-ankerpunte, sitplekgordels, meganiesbeheerde lugversorger, verligte binnespieëls agter die sonskerms, hoogte verstelling vir die bestuurder se sitplek, 60:40 platvou vir die agterste sitplekke se rugleunings en nog talle ander gerieflike toerusting wat ‘n radio insluit om dit moontlik te maak vir die insittendes om die rit te kan geniet.

Die kattebakdeksel maak oop tot 68 sentimeter bokant grondhoogte en dit verseker dat bagasie sonder moeite gelaai kan word. SA is gelukkig in die opsig dat ‘n plekbesparende noodwiel beskikbaar is en alhoewel daar in ‘n geringe mate laaiplek ingeboet is, is die wete dat daar ‘n noodwiel in plek is, ‘n gerusstellende gevoel.

Op die sierrooster is die bekende Opel “blits” kenteken en die halogeen-hoofligte verseker dat ‘n nagrit met veiligheid aangepak kan word. Padgedrag is van hoogstaande gehalte en alhoewel dit van akademiese belang is, is die motor in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 11.2 sekondes en die topsnelheid is volgens die vervaardiger 200 km/u. Brandstofverbruik volgens die vervaardiger is 6,0 liter/100 km. en die brandstofhouer hou 48 liter, wat dit dus ‘n goeie reikafstand verleen.

Hierdie motor is een van my persoonlike gunstelinge en indien u ‘n nuwe motor wil aanskaf, kan u dit gerus op u kortlys plaas.