Okosa uitspraak oor SAUK steeds uitstaande

Die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid van Suid-Afrika (Okosa) sal na verwagting uiteindelik vandag uitspraak lewer oor die SAUK se besluit om nie gewelddadige betogings uit te saai nie.

Okosa se verwagte uitspraak sloer al van verlede week af. Nagenoeg 50 werknemers by die organisasie het egter aan ‘n staking deelgeneem weens ‘n loongeskil, en dit het klaarblyklik ‘n uitwerking op die normale funksionering van Okosa.

Die tugverhore teen drie van die SAUK se geskorste werknemers is intussen onbepaald uitgestel, sonder dat die skorsings opgehef is.

Dit tugsaak teen die drie senior joernaliste Foeta Krige, Suna Venter en Thandeke Gqubule, sou vandag begin het. Dit is die tweede keer dat die tugsaak teen hulle uitgestel is.

Die tugsaak teen ander werknemers, Busi Ntuli, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp het ook nie die afgelope Vrydag plaasgevind soos dit geskeduleer was nie.

Nog ‘n joernalis het intussen gehoor dat ‘n tugsaak teen hom kom aangesien hy net soos Steenkamp, Pillay en Ntuli sy mening gelug het oor die situasie by die SAUK.

Daar word geëis dat indien Okosa se uitspraak teen die SAUK is, moet die aanklagte teen die SAUK-werknemers teruggetrek en die skorsings opgehef word. Die uiters omstrede bedryfshoof van die uitsaaier, Hlaudi Motsoeneng, moet dan in so ‘n geval geskors en aangekla word.