Nuwe windplaas reg om krag te voorsien

’n Nuwe windplaas met 35 windturbines is naby Noupoort in die Noord-Kaap opgerig en het begin om elektriese krag te lewer.

Die reuse turbines is binne die gestelde tyd opgerig teen ’n bedrag van bykans R2 miljard om sowat 89 MW krag te lewer.

Die turbines lewer ’n belangrike bydrae tot die kommersiële verbruikers en is op dag en datum in werking gestel toe dit op 11 Julie begin het om elektriese krag op te wek.

Die kontrakteurs het die projek binne 17 maande voltooi soos wat deur Eskom vereis is, en word die eerste in ’n reeks windplase wat nog opgerig moet word in die volgende paar jaar.

Met die eerste vyftien windplase wat reeds opgerig is in Suid-Afrika, word sowat 500,000 huishoudings van krag voorsien.

Die Noupoort windplaas se 35 turbines strek oor ’n gebied van sowat 7,000 hektaar grond, en vorm deel van die totale projek wat uiteindelik teen R90 miljard opgerig gaan word.

Van die belangrikste windplase wat nog opgerig moet word, is geleë by Cookhouse, Molteno, Koekenaap, Gouda, Tsitsikamma, Port Elizabeth, Jeffreysbaai, St Francisbaai en Vereeniging.

’n Paar kleiner windplase sal ook mettertyd opgerig word.