Nuusflitse

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) gaan appelleer teen die hofuitspraak dat sy taalbeleid met Engels as primêre taal van onderrig ter syde gestel moet word.

Die besluit volg skaars ‘n dag nadat die Vrystaatse hooggeregshof beslis het die UV se raad en senaat is mislei om tot die verkeerde besluit ‘n nuwe taalbeleid vir die instelling te kom.

Die UV het in ‘n verklaring deur hul direkteur vir kommunikasie en handelsmerk-bestuur, Lacea Loader, aangedui die uitspraak is in opdrag van die universiteit se prokureurs vir eksterne regsadvies deur advokate verwys.

“Die advies is dat die uitspraak, met respek, foutief is met betrekking tot regsbeginsels en feitelike kwessies, wat albei grondliggend en verreikend is.”

 

Die polisie hou die situasie dop in Meyerton, waar betogers al etlike dae lank betoog oor dienslewering nadat hulle water- en kragtoevoer glo afgesny is.

Die inwoners van Sicelo buite Meyerton is glo woedend vir die DA in die Midvaal-munisipaliteit.

Verkeer op bepaalde roetes moes herlei word omdat die inwoners voertuie met klippe bestook het. Petrolbomme en klippe is ook na die polisie gegooi.

Die verkeerspolisie is aanbeveel om eerder die N1-hoofweg of die R551 en R557-pad as alternatiewe roetes te gebruik.

 

Militêre veterane het in Zimbabwe teen president Robert Mugabe se bewind gedraai.

Volgens die nuusagentskap, AFP, het hulle Mugabe daarvan beskuldig dat hy “diktatoriaal” is.

Mugabe (92 jaar) wat al sedert 1980 aan bewind is, het hom weer beskikbaar gestel vir die volgende verkiesing oor twee jaar.

Hierdie veterane het deur die jare ‘n groot rol gespeel om blanke boere in opdrag van Mugabe van hul plase te verdryf.