Nog ‘n e-pos skandaal in VSA

In Amerika is die Demokratiese Party in ’n groot verleentheid gebring met die skielike, en onverwagse bedanking van die party se voorsitter, Debbie Wasserman Schultz, weens ’n ernstige e-pos skandaal.

Sy het bedank weens die e-posse wat uitgelek het na die media waarin Hillary Clinton bevoordeel word bo haar party se mededinger, Bernie Sanders.

Die verpletterende nuus het die entoesiasme vir die Demokratiese Party se konvensie aansienlik gedemp, en talle afgevaardigdes sê hulle is teleurgesteld en sal verkies om tuis te bly en nie die konvensie bywoon nie.

Bernie Sanders het aan die media gesê hy is nie verbaas oor wat gedoen is nie, maar is wel baie teleurgesteld.

Die bedanking van die Demokratiese Party se hoof kom slegs ’n dag voor die konvensie begin, en word deur politieke ontleders beskryf as ’n groot terugslag vir die Party aangesien die groot stryd teen Donald Trump nou eers begin,

Sowat 19,000 e-posse het gelek wat die Bernie Sanders veldtog benadeel het, maar wat nie tydens die konvensie hanteer sal word nie, en waarskynlik eers op die party se kongres bespreek sal word.

Waarnemers sê dit sal die partystruktuur voldoende tyd gun om ondersoek te doen na die gebeure, en om aanvaarbare verskonings aan afgevaardigdes te bied.

Die duisende e-posse is op die internet bekend gemaak en vir almal wat belangstel, beskikbaar gestel.

Een van die e-posse se inhoud is direk teen Sanders gemik met ’n slotopmerking dat “sy kandidatuur ’n hopelose saak is en hy sal nooit president word nie”.

Foto – Debbie Wasserman Schultz