Nkandla – gaan Zuma self R7,8 miljoen opdok?

Die Zuma-familie het amper almal aangedui dat hulle president Jacob Zuma nie finansieel sal kan help om die R7,8 miljoen te betaal vir sy nie-veiligheidsopgraderings by Nkandla nie.

Die stories laat hulle bykans soos kerkmuise klink met sy jonger broer se verhaal dat hulle nederige lewens lei net soos enige ander plattelandse familie.

Sy oudste seun het die media probeer wysmaak dat hulle nie ‘n ryk familie is nie, alhoewel sy sakebelange en R2,5 miljoen troue ‘n ander verhaal vertel.

Ten minste vier kinders van Zuma is betrokke by verskeie nywerhede en mynbedrywighede. Van die vier is Duduzane Zuma moontlik die rykste aangesien hy ‘n aandeel het in ses maatskappye ter waarde van honderde miljoene rande.

Namate die spertyd van 24 Augustus naderkruip dat Zuma moet opdok, het ryk sakemanne wat voorheen in die openbaar aangedui het hulle sal inspring om te help betaal ook versigtig geraak om diep in hulle sakke te krap.   

Hulle onwilligheid hang waarskynlik daarmee saam dat die einde van Zuma se ampstermyn in sig is en die sakelui nie verwag om veel in ruil vir hulle ruimhartigheid te kry nie.

Die ANC se sekretaris-generaal en eintlike grootbaas van SA, Gwede Mantashe, het aangedui dat die ANC geen planne het om die geld in te samel nie. Volgens hom is die grondwetlike hof baie duidelik daaromtrent dat die ANC nie die geld mag betaal nie.

Foto – Nkandla