MRK se trae optrede bevraagteken

Die SA Menseregtekommissie (MRK) is versoek om klagte te ondersoek teen die EFF-leier, Julius Malema, nadat hy mense onder meer aangehits het om onwettig grond van wittes af te neem en te beset.

Die versoek is ook gerig dat die ondersoek saamgevoeg word met dié teen pres. Jacob Zuma waarmee die MRK nou reeds sedert Januarie verlede jaar sloer, sê adv. Anton Alberts van die VF Plus.

Die party het baie onlangs ook klagte by die MRK ingedien teen die vrou, Palesa Sotjifa, wat op Twitter glo onder meer die EFF sou aangehits het om wit mense te vermoor. Die MRK is ook gevra om te sê waarom hy nagelaat het om uit sy eie klagte van rassisme teen Sotjifa te ondersoek terwyl in ander gevalle en teen ander persone wel opgetree is sonder dat klagtes ingedien is.

Die klag teen Malema hou verband met uitlatings wat hy luidens berigte op 26 Junie vanjaar in Newcastle, Natal gemaak het. Hy het glo onder meer gesê wittes het geen reg op grond in Suid-Afrika nie, en swart mense moet dit beset en eienaarskap daarvan neem.

Volgens adv. Alberts is dit ‘n uiterste vorm van aanhitsing tot geweld wat groot rassewrywing kan veroorsaak aangesien onwettige besettings ongetwyfeld tot geweld aanleiding kan gee.

“Sulke uitlatings is verdelend en het die potensiaal om ʼn bloedbad te veroorsaak indien mense in groot getalle gehoor gee daaraan.

“Dit is daarom verstommend dat die MRK nie uit sy eie sulke uitlatings ondersoek nie, maar in ander gevalle wel vinnig optree en mense swaar beboet.

“Die party vra die MRK nou reeds sedert voor die verkiesing in 2014 om klagtes van moontlike haatspraak en opsweping tot geweld teen Malema, pres. Zuma en van hul ondersteuners te ondersoek. Tot dusver was daar geen optrede nie”, sê adv. Alberts.