Moord op Tony Strydom nog ondersoek

Die moordondersoek na die raaiselagtige dood van Tony Strydom (45 jaar) duur steeds voort nadat hy onlangs na bewering in die rug geskiet is toe hy alleen gaan teikenskiet het.

Die teikenbaan is ‘n selfgemaakte teiken aan ‘n paal op ‘n gehuurde hoewe in Louis Trichardt, waar Strydom saam met sy tweede vrou, Rieta (62 jaar), en twee seuns, Hendrik (23 jaar) en Pieter (21 jaar), gewoon het.

Die twee seuns vertel hulle het op hulle pa afgekom waar hy in die gras nie ver van sy bakkie af op sy maag gelê het.

Die seuns het saam met hulle stiefma sit en televisie kyk toe Tony aangekondig het dat hy “skietbaan toe” gaan.

Hul stiefma het hulle later gestuur om hulle beeste te gaan haal toe hulle op hulle pa afgekom het by die skietbaan wat sowat 500 m van hul huis is.

Tony se jaggeweer is na bewering gesteel en die grootste deel van ‘n R1 000 kontant wat hy getrek het, is ook weg.

Volgens die polisiewoordvoerder van Noord-Transvaal, kol. Ronél Otto, is daar ook nog glad nie ‘n moordverdagte geïdentifiseer nie.

Foto -Tony Strydom