Mislukte staatsgreep in Turkye

Rebelle in die Turkse leër het Saterdag in ’n verklaring aangekondig dat “die leër van Turkye die mag oorgeneem het”.

In die stryd tussen die weermag rebelle en die weermaglede wat steeds die wet en orde wil handhaaf, het meer as 265 soldate omgekom terwyl minstens 1,100 mense gewond is.

In Ankara het die liggame van dooie en swaar gewonde soldate gestrooi gelê in die strate, terwyl talle probeer het om uit die kruisvuur te ontsnap.

Later is verneem dat sowat 2,800 rebelle hulle oorgegee het aan die polisie, en daarmee is die sterkste moontlikheid vir ’n suksesvolle staatsgreep gekelder.

In Istanboel is die brûe oor die “Bosporus” wat die verbinding vorm tussen die Europese en Asiatiese kant van die stad afgesper.

Alle lughawens in die land is gesluit, en die Turkse premier het bevestig dat dit gaan oor een deel van die weermag wat nie die bevelstruktuur aanvaar nie.

President Erdogan  het die burgerlikes gemaan en opgeroep om in die strate saam te kom, en ook onderneem dat diegene wat  betrokke was by die poging, daarvoor sal boet.

In die nagtelike ure is ’n berig op die sosiale netwerk geplaas met die mededeling dat onrus in Turkye posgevat het onder weermaglede, en later is foto’s van soldate en weermagtenks geplaas wat in die strate van Ankara en Istanboel saamgetrek is.

Ooggetuies beweer dat lugmag vegvliegtuie en helikopters oor die twee stede vlieg, terwyl alle lughawens gesluit en vlugte gekanselleer is.

Soldate het ook die geboue van die staat se uitsaaidiens (TRT) oorgeneem en berigte word herhaaldelik uitgesaai dat die land voortaan deur ’n Vredesraad regeer sal word en dat die bevolking geensins hoef te vrees vir hulle veiligheid nie.

’n Gereelde aankondiging word gemaak dat daar voortaan ’n aandklokreël van toepassing is wat deur almal gehoorsaam moet word.

Die kapers beweer dat die demokratiese en sekulêre wet nie deur die huidige regering gehoorsaam is nie, en dat daar baie vinnig ’n nuwe grondwet opgestel sal word.

Die Vredesraad laat toe dat burgers van die land, ongeag hulle geloofsoortuigings, of hulle ras en taal, erken sal word.

Nadat die weermag soldate ingestuur het na die nasionale uitsaaier se gebou, is uitsendings vir ’n geruime tyd gestaak, maar later is musiek op ’n deurlopende basis gespeel sonder om enige aankondigings te maak.

President Erdogan het later aangekondig dat die weermag en polisie in volle beheer is en dat die staat wel sal optree teen die rebelle wat vir die poging verantwoordelik is.