Minister kap media oor kritiek teen regime

Daar kan weinig twyfel wees oor waar die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, se lojaliteit lê na haar oproep dat joernaliste by ‘n professionele liggaam geregistreer moet word “om te keer dat hulle ander mense se regte vertrap”.

Hierdie voorstel het sy weer op die tafel geplaas te midde van al die protesaksies oor die toepassing van sensuur deur die SAUK.

Sy het by ‘n inligtingsessie van die Guptas se The New Age-koerant beweer die regering ondersteun mediavryheid. The New Age is op die been gebring om die ANC te bevorder en die Guptas het baie nou bande met president Jacob Zuma.

Die koerant het Muthambi in sy beriggewing aangehaal waar sy die media kritiseer vir rassistiese neigings en meedoënlose pogings om ‘n swart regering te kritiseer.

Sy het voorts aanbeveel dat die media getransformeer moet word om nasiebou te bevorder en te verhoed dat hulle die regering as korrup en onbekwaam voorstel.

Dit het intussen gelyk asof die ANC by monde van sy woordvoerder, Zizi Kodwa, ‘n regsomkeer gemaak het omtrent sy uitsprake oor die media se weerstand teen die SAUK se sensuur-dekrete. Kodwa het gevra dat Muthambi en die SAUK-raad ondersoek moet instel na besware teen die SAUK.

Foto – Faith Muthambi