Minder sout in verwerkte kos

Verwerkte kos moet kragtens wetgewing vanaf Julie vanjaar minder sout bevat.

Die wetgewing is reeds in Maart 2013 in die Staatskoerant gepubliseer, waarna produsente drie jaar gegee is om minder sout in hulle produkte te sit.

Vanaf 30 Junie moet produkte soos margarien, souspoeier, speserye, graankos, brood, soutversnaperinge en hoender wat met pekelwater ingespuit is, minder sout bevat.

Die besluit hieromtrent is geneem omdat siektes soos hoë bloeddruk en diabetes drie keer hoër in Suid-Afrika is as in ander ontwikkelende lande. Hierdie siektetoestande word deur soutinname, alkohol en tabakrook vererger.

Suid-Afrikaners is nie eens daarvan bewus dat hulle daagliks dubbel die voorgestelde hoeveelheid sout inneem nie, sê die Hartstigting.