Meer oor tennis en sy wortels

Almal weet wat tennis is en hoe dit gespeel word. Dit word gereeld op die kassie gewys met kommentaar oor die beste spelers wat aan groot toernooie deelneem. Wat waarskynlik minder bekend is, is besonderhede oor die ontstaan van tennis en oor die rakette en balle wat gebruik word.

 

Daar word baie bespiegel oor die ontstaan van tennis. Sommige mense beweer dat tennis duisende jare gelede deur die ou Egiptenare, Grieke en Romeine gespeel is. Ander sê dat tennis in ongeveer die jaar 1 000 deur Franse monnike met die hand oor ‘n tou gespeel is en dit  ‘je de paume’  genoem het. Maar al hierdie moontlike verklarings is onbevestig.

 

Tussen 1859 en 1865 het Harry Gem en sy vriend Augurio Perera ‘n spel ontwikkel wat die gesamentlike elemente van rakette en die Baskiese balspel pelota bevat het. Dit het hulle op Perera se kroukiebaan in Birmingham, Engeland gespeel. Saam met twee dokters het hulle die wêreld se eerste tennisklub in Leamington Spa, Warwickshire, England, in 1872 gestig.

 

Tennis, soos dit vandag gespeel word, is glo in 1873 in Engeland deur majoor Walter C Wingfield gepatenteer. Hy het dit sphainstikè, Grieks vir balspel, genoem. Daarna het dit as grasperktennis bekend geraak omdat dit op ‘n grasperk gespeel is. Hoe majoor Wingfield se poging met Harry Gem en Augurio Perera verbind kan word, is nie aangeteken nie, maar hy het duidelike reëls opgestel en die spel bemark. Die wêreld se oudste tennistoernooi, Wimbleton-kampioenskappe, is die eerste keer in 1877 in Londen aangebied.

 

Sedert 1890 is die reëls van tennis baie min verander. Een uitsondering in 1908 was dat die afslaner altyd een voet op die grond moet hou. In 1970 is die uitspeelpot ingestel. Die Internasionale Tennisfederasie het omvattende reëls in 1924 neergelê wat algemeen as uitstekend aanvaar is.

 

Daar word vereis dat tennisrakette se oppervlakke plat moet wees met die raam nie groter nie as 29 dm. (73,66 cm.) in lengte en nie breër nie as 12,5 dm. (31,75 cm.). Die hele raket moet van ‘n vaste vorm, grootte, gewig en gewigsverspreiding wees. Geen energiebron mag in ‘n raket ingebou word nie.

 

Tennisballe word van hol gevulkaniseerde rubber gemaak met ‘n vilt bedekking. Oorspronklik was die balle wit, maar later geel gekleur om dit beter sigbaar te maak. Die deursnee daarvan moet 2,575–2,700 dm (65,41—68,58 mm) wees en tussen 1,975—2,095 dm. (56,0—59,4 gram.) weeg met ‘n goedgekeurde bons.

 

Die oppervlakte van ‘n tennisbaan kan gras, klei, sement, teer of kunsvesel wees. Die baan is 78 voet (23,77 meter) lank, 27 voet (8,23 meter) breed vir enkelspel en 36 voet (10,97 meter) vir dubbelspel. Die net is 3 voet 6 duim (1,067 meter) hoog by die stutpale en 3 voet (0,914 meter) in die middel.