Meer as 30 beseer toe bus omval

Meer as 30 mense is beseer toe ‘n bus ongeval het op die M1-suid deurpad, waar dit van die M2-wisselaar in Newtown, Johannesburg skei.

Die bus met sitplek vir 75 passasiers het op sy sykant beland en toe paramedici gisteraand op die toneel opdaag, was omstanders besig om hulp aan die beseerde passasiers te verleen.

Niemand is dood in die ongeluk nie en die meeste mense het ligte beserings opgedoen, terwyl enkele passasiers matig beseer het. Hierdie passasiers is na verskillende hospitale vir behandeling geneem.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onduidelik maar dit blyk dat die bus, wat onderweg was na Kaapstad, met ‘n ander voertuig gebots en toe omgeval het.

Die Johannesburgse metropolisie se spesiale ondersoekeenheid na ongelukke het met ‘n ondersoek begin oor die voorval.

Volgens ‘n woordvoerder van die metropolisie, Wayne Minnaar, het die bestuurder van die bus van die toneel gevlug.

‘n Hewige oponthoud van die verkeer het voorgekom weens die ongeluk.