Man in rolstoel help kontant roof

Drie mans het ‘n transito-veiligheidswag in ‘n winkel oorrompel in Bethlehem nadat hulle ‘n rolstoel as ‘n slenter gebruik het.

Een van die verdagtes het sy trawant met die rystoel in die winkel gestoot, aldus die polisie.

Toe die wag uit ‘n kantoor binne die winkel te voorskyn gekom het, het die twee mans hom gekonfronteer en hom opdrag gegee om die kontant op die grond te laat val.

Toe hy weier, het ‘n worsteling ontstaan en twee skote is in die dak afgevuur. ‘n Derde rower het bygekom en het die wag se vuurwapen gegryp.

Die verdagte in die rolstoel het skielik opgestaan en die geldhouer by die veiligheidswag gegryp en hulle het daarna almal ontvlug.

Nog ‘n skoot is in die dak afgevuur voordat die drie rowers ontvlug het met ‘n voertuig wat buite vir hulle gewag het.

Dit is nie bekend hoeveel kontant hulle geroof het nie.

Foto – Misdaadtoneel SAPD