Man eis miljarde van Apple

In die Amerikaanse deelstaat Florida het Thomas Ross ’n eis van $10 miljard ingestel teen die reuse Apple-maatskappy.

Ross beweer dat die Apple-maatskappy sy idee van slimfone gesteel het, en daarom eis hy die bedrag plus 1,5% van die inkomste wat Apple kry uit die wêreldwye verkope van die toestelle.

Ross het glo in 1992 ’n patent ingehandig vir registrasie van ’n “elektroniese leesapparaat” met dieselfde funksies as wat die moderne slimfone en “tablette” gebruik, en het ’n regsaak begin teen Apple.

Ross beweer hy ly “groot, en onherstelbare skade” as gevolg van die optrede van Apple om sy patent te steel.

Die saak word nou in ’n hof besleg, waar ’n jurie uitsluitsel moet gee oor die eiser se saak, en die tekening wat die man gemaak het toe hy die patent geregistreer het, sal waarskynlik ’n deurslaggewende rol speel in die beslissing van die saak.

Apple beweer die man mag dalk die patent geregistreer het, maar het nooit tot die vervaardiging daarvan gekom nie, en Ross se patent is gebaseer op ’n toestel waarop verhale, boeke en ander leesstof gelees kan word.