Lesufi verkla oor sy hantering van kleuterskool

Strafregtelike klagte gaan teen Sentraal-Transvaal se LUR vir onderwys gelê word, hoofsaaklik oor die wyse waarop hy op Twitter uitgevaar het teen ‘n kleuterskool in Verwoerdburg.

Die VF Plus het aangedui dat strafregtelike klagte ingevolge die Kinderwet teen Panyaza Lesufi by die Wierdabrug-polisiekantoor aanhangig gemaak gaan word.

Die klag hou hoofsaaklik verband met Lesufi se uitsprake op Twitter terwyl hy nog onderweg na die Koeitjies en Kalfies-kleuterskool in Verwoerdburg was.

Die kleuterskool is van rassisme beskuldig nadat die ma van ‘n swart kind ‘n foto op Facebook geplaas het waar sy alleen sit terwyl ‘n groep wit kinders langsaan by ‘n tafel sit.

Volgens adv. Anton Alberts van die VF Plus het Lesufi op Twitter teen die skool “uitgevaar” en “aangeneem” die skool is skuldig nog voordat ondersoek ingestel is.

Lesufi het sy Twitter-volgelinge opgesweep en foto’s van die skool op Twitter geplaas waarop die kinders geïdentifiseer kan word, het Alberts gesê.

“Ingevolge die Kinderwet is dit ‘n misdryf om enige kind onder die ouderdom van 18 jaar aan moontlike skade bloot te stel.”

Alberts het voorts daarop gewys dat een van Lesufi se Twitter-volgelinge ‘n foto uit die fliek, Django Unchained, geplaas het waarin ‘n swart man ‘n wit vrou met ‘n sweep slaan. “Lesufi het die skool en die kinders aan moontlike skade blootgestel,” aldus adv. Alberts.

Lesufi het op sy beurt alles heftig ontken en die klag teen hom as ‘n verkiesingsfoefie afgemaak.

Hy het onder meer vroeër getwiet dat daar ‘n maatskaplike werker aangestel is om sake by die skool uit te sorteer. Volgens hom is daar net blanke kinders en blanke onderwysers by die skool, en die swartes is bloot bediendes. Vervolgens het hy die versekering gegee: “ons speel nie albasters met rassisme nie”.